Abraham Lincoln | |
---|---|
16de President van die Verenigde State | |
Ampstermyn | 4 Maart 1861 – 15 April 1865 |
Voorganger | James Buchanan |
Opvolger | Andrew Johnson |
Geboortedatum | 12 Februarie 1809 |
Geboorteplek | Hardin County, Kentucky |
Sterftedatum | 15 April 1865 |
Sterfteplek | Washington, D.C. |
Eerste Dame | Mary Todd Lincoln |
Politieke party | Republikein |
Visepresident | Hannibal Hamlin (1861–1865) Andrew Johnson (1865) |
Handtekening |
Abraham Lincoln ['eɪbrəhæm 'liŋkən] (* 12 Februarie 1809 naby Hodgenville, Hardin County, tans: LaRue County, Kentucky; † 15 April 1865 in Washington, D.C.) het tussen 1861 en 1865 as 16de President van die Verenigde State van Amerika geregeer.
Hy was die eerste lid van die Republikeinse Party wat as staatshoof gefungeer het asook die eerste president wat in 'n politieke sluipmoord vermoor is. Ná sy oorwinning in die presidentsverkiesing van 1860 is hy in 1864 vir 'n tweede ampstermyn herkies. Abraham Lincoln was die 16e president van die VSA en is naas George Washington die land se vernaamste volksheld.
Dit was nie soseer sy bestuurs- en wetgewende vermoëns wat hom beroemd gemaak het nie, maar sy onvermoeide pogings om tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1860-1865) die eenheid (Unie) van sy land in stand te hou. Hy was 'n groot voorstander van die demokrasie en het slawerny in Amerika beëindig. Lincoln, wat 'n uiters eenvoudige agtergrond gehad het en sonder geleerdheid was, het hom tot die hoogste gesagsposisie opgewerk.